Ombudsman kry meer klagtes oor huisverbande

01 Maart 2005 -Beeld
Elma Kloppers

Die aantal klagtes oor huisverbandfinasiering wat aan die ombudsman vir bankdienste gerig is, het die afgelope jaar beduidend toegeneem, in ooreenstemming met die bloeitydperk in die residentiële eiendomsektor.

Na verwagting sal dit binne die volgende jaar of twee selfs verder styg, volgens adv. Neville Melville, bankombudsman. Melville sê in die lig daarvan dat belegging in eiendoms 'n vuurwarm onderwerp van bespreking onder Suid Afrikaners is, is dit nie 'n verrassing dat dié kategorie van klagtes ATM-klagtes verbygesteek het nie. In Januarie het verbandfinansiering 24% van die totale aantal klagtes vertoonwoordig, vergeleke met die 18% ATM-klagtes.

"Omdat geld tans relatief goedkoop geleen kan word, dink mense eenvoudig nie aan môre nie." Melville voorsien dat die ombudsman in die nabye toekoms klagtes sal moet hanteer waar banke meer geleen het aan kliënte vir die verkryging van eiendom as wat hulle in staat is om terug te betaal, asook gevalle waar banke verbande op tweede eiendomme sal moet terugtrek omdat die koper nie die eiendom verhuur kon kry nie.

Hy sê hoewel verreweg die meeste klagtes in die guns van die bankkliënte opgelos word, kan die blaam nie altyd op die banke geplaas word nie. Sommige bankkliënte is verandwoordelik vir hul eie verliese, veral in die gevalle waar hulle te laat tot die eiendomsmark toetree en gevolglik hul vingers verbrand.

Mnr. Bruce Manuel, bemarkingsamptenaar van die ombudsman, sê dit is geensins die beloeling om mense af te skrik van beleggings in eiendom nie, maar eerder om hulle to waarsku om op die risiko's te let sodat hulle weldeurdagte besluite kan neem.

Hy sê enigeen wat dit oorweeg om hom finansieel te verbind, sal wys wees om inligting en advies van ander bronne in te win.

"Dit is goed om te onthou dat banke daar is om a wins te genereer en altyd hul koste sal verhaal."

Manuel sê kliënte moet in gedagte hou dat die huismark kan verander weens die uitwerking van eksterne faktore en hulle moet sorg dat hulle in staat sal wees om hul verbande te kan terugbetaal as rentekoerse styg.

Hulle moet ook versigtig wees om in die eiendomsmark te spekuleer, wat hul risiko sal vergroot. Hy glo die ware belegger doen sy huiswek en neem ingeligte besluite.