Dié bankwins uitlening nie regverdig2 February 2004 - Beeld Beregter tree op toe huis verkoop word. Bank betaal volle opbrengs in rekening. Dit lyk asof verbruikers nou baie beter daaraan toe gaan wees as hulle agterstallig raak met hul huisleningspaaiemente nadat die Bankberegter, adv. Neville Melville, besluit het om in te gryp.Hy was baie bekommerd oor vraagstukke wat geblyk het uit 'n klagte wat hy van 'n verbruiker ontvang het. Die verbruiker het agterstallig geraak met sy huislening se terugbetaling en die bank het die huis teruggeneem. Toe die eiendom opgeveil is, het die bank nie die reserweprys gekry nie en die bank het die eiendom teruggekoop teen R100 en dit later teen 'n baie hoër prys verkoop. Die verbruiker se uitstaande huislening is egter met net R100 gekrediteer en nie met die prys waarvoor die bank later die eiendom gekoop het nie. Die verbruiker skuld die bank dus steeds die res van die uitstaande bedrag. Nadat Melville kundiges se menings gevra het, het hy die banke in kennis gestel dat hierdie sakepraktyk lynreg bots met die gemene reg en die Kode van Bankpraktyk. "Terwyl die banke die reg het om die hoofskuld, rente en ander koste in te vorder, word hulle nie toegelaat om "wins" te maak uit die herverkoop van die eiendom nie. Wanneer die eiendomsmark egter afplat, kan dit wees dat die eiendom vir minder verkoop word as wat die verbruiker skuld en dan sal die verbruikers die verskil moet opdok," het hy gesê. Volgens Melville is hy daarvan oortuig hierdie benadering sal 'n verskil maak vir verbruikers wat dit nie te breed het nie. Al daal die rentekoers, wat dit makliker maak om eiendom te koop, is daar steeds verbruikers wat sukkel om die wolf van die deur af weg te hou. Melville hoop dat hul betrokkenheid by soortgelyke klagtes sal help om verbruikers oor hul regte op te voed sodat hulle nie ingeloop word nie. Hy het verbruikers aangeraai om self hul eiendomme te verkoop voordat die bank dit terugneem. "Dit help nie altyd om te wag dat dinge beter gaan nie en rente op 'n agterstallige huisiening en regskoste kan baie vinnig ophoop." het Melville gesê. Hy het voorgestel dat die bank die verbruiker se rekening krediteer met die volle bedrag wat vir die huis gekry is en dit is so gedoen. In so 'n geval maak die beregter nie die naam van die bank bekend nie. Die bankberegter se kantoor het verlede jaar 397 klagtes oor huisienings gehanteer.
|