Meeste klagtes teen banke is oor huisverbande

Maarten Mittner - Beeld, 9 Mei 2001

Bankkliënte se probleme met huisverbande is die grootste bron van klagte wat die kantoor van die Bankberegter bereik.

Adv. Neville Melville, die Bankberegter, het gister in Sandton in sy jaarverslag vir 2000 daarop gewys  dat 495 klagte verlede jaar hieroor ontvang is, wat 18% van die totale klagte uitmaak. Van die klagte is 65% ten gunste van die bank en 35% ten gunste van die kliënt opgelos.

Klagte oor outomaties tellermasjiene (OTM's) is die naasgrootste kategorie met 226 klagte wat 9% van die totaal uitmaak. Aangesien so baie klagte in dié kategorie ontvang is, is besluit om dit as 'n spesiale projek aan te pak.

Waar banke nie voorheen aanspreeklikheid wou aanvaar vir verliese wat by OTM's gely is nie, is 'n posisie ná onderhandelings bereik waar banke wel aanspreeklikheid aanvaar mits bewys kan word dat bedrog of growwe nalatigheid nie 'n rol gespeel het nie, het Melville gesê.

Volgens Melville is beduidende vordering deur sy kantoor gemaak om 'n meer regverdige bedeling ten gunste die gebruikers van OTM's te skep. In die eerste ombudsman-verslag oor OTM-klagtes is net 20% ten gunste van klaers beslis. Dié syfer is nou verbeter tot bykans 40%.

Klagte oor kredietkaarte is die derde grootste kategorie waaroor mense kla. In dié kategorie het die bankberegter in 59% van die gevalle ten gunste van die kliënt beslis en in 41% van die gevalle ten gunste van die bank.

Melville het gesê sy kantoor beskik tans nie oor genoegsame statistieke om te kan sê teen watter banke die meeste klagte ingedien word nie. "Blote rou statistieke in dié verband kan misleidend wees, maar die klagte is oorweegend oor die vier groot bankgroepe in die land."

Dit is onbevredigend dat banke nie die sperdatum van 1 Oktober verlede jaar nagekom het om dokumente in billike en verstaanbare taal beskikbaar te stel nie. "Geen verduidelikings is aan ons verstrek nie, hoewel die NBS en Standard Bank laat weet het dat hul dokumente spoedig, straks nog vandeesmaand, gereed sal wees."

Hoewel klagte oor huisverbande die meeste voorkom, vorm klagte oor die beweerde verkeerde berekening van rente net 'n klein onderafdeling hiervan. "Oor die algemeen het ons gevind dat waar verkeerde berekenings voorgekom het, dit nie van groot omvang was nie. Somtyds is dit net 'n geval van die kliënt wat nie verstaan hoe die berekenings gedoen is nie."

Die bankberegter het die bevoegdheid om 'n aanbeveling of 'n beslissing te doen. 'n Beslissing is gebaseer op regsreëls terwyl aanbevelings op die bankkode en regsreëls berus. 'n Beslissing is bindend vir die bank, maar 'n aanbeveling is nie.

Die bankberegter het egter die bevoegdheid om die bank se naam te noem wat nie die aanbeveling nakom nie.

"In dié geval berus die onus op die media om dit verder uit te dra. Die een aanbeveling wat nie deur Eerste Nasionale Bank (ENB) nagekom is nie, is deur ons bekend gemaak, maar het nie die uitwerking gehad wat ons gedink het dit sou nie," het hy gesê.