Rente 'mag' meer wees as aanvangsbedragSakeBeeld, 28 January 2003 Studente aan universiteite en technikons wat voornemens is om hul studie deur banklenings te finansier, word gemaan om 'n wye reeks opsies te ondersoek. Adv.Neville Melville, die Bankberegter, het sy kommer uitgespreek dat te veel jong mense oorhaastig is wanneer om 'n studentelening aansoek gedoen word. Te min begryp wat die uiteindelike gevolge daarvan op hul sakke sal wees. Sommige opsies maak voorsiening daarvoor dat die student self kan besluit wanneer hy of sy wil begin terugbetaal. 'n Student wat byvoorbeeld vanjar onderneem om 'n BA-graad oor drie jaar te volg, kan besluit om die lening eers in 2006 te begin terugbetaal wanneer hy begin werk. Hoewel dit teoreties gunstig vir die student lyk, is daar heelwat slaggate. Die student moet veral vasstel wat hy dan sal skuld. Aangesien rente op alle geleende geld gehef mag word, kan die student dan opgeskeep sit met 'n rekening wat meer as dubbel die oorspronklike bedrag beloop. Die beregter se kantoor het verlede jaar die in duplum-reëling bekyk waarvolgens 'n lener van geld volgens sommige regsuitsprake nie uiteindelik meer uitstaande rente mag eis as wat die aanvanklike kapitaalbedrag was nie. In een geval het 'n student opgehou om rente op 'n uitstaande studielening te betaal. Die uiteindelike lening was heelwat hoër as wat aanvanklik gemeen is. Die beregter se kantoor het egter beslis dat die in in duplum-reëling nie die bank daarvan kan weerhou om rente te eis wat groter as die aanvanklike skuldbedrag beloop nie. Voordat studente 'n leningsooreenkoms onderteken, raai Melville aan dat die werklike omvang van verpligtinge aan die bank besef word. Klarigheid moet ook gekry word oor die tipe koste wat afgetrek word en wat die voordele van vroeë aflossing behels.
|