Volle wins kom verbandhouers toe.28 January, 2004 - Beeld - Sake
Beeld Handelsbanke mag voortaan geen wins op teruggeneemde eiendom maak nie. die volle wins sal die voormalige eienaar toekom. Volgens adv. Neville Melville, die bankberegter, is klarigheid daaroor gekry nadat sy kantoor 'n klagte van 'v verbandhouer ontvang het. Hy het gesê 'n bank sou byvoorbeeld die eiendom van 'n verbandhouer wat nie sy paaiemente betaal nie, vir R100 koop en vir 'n baie groter prys verkoop. Die banksou net R100 aan die oorspronklike eienaar betaal en hom verantwoordelik hou vir die uitstaande verbandlening. Die bank steek die wins op die eiendom in sy eie sak. "Dit is duidelik dat dié wins banke nie toekom nie en dat die volle wins aan die voormalige eienaar teruggekanaliseer moet word, " het Melville gesê. Soos sake tans staan is 'n huiseienaar verantwoordelik vir die volle tekort op 'n huisverband as die eiendom verkoop word vir minder as die uitstaande verbandlening. In die geval wat deur die bankberegter se kantoor gehanteer is, kon die huiseienaar nie meer die maandelikse verbandleneings bybring nie. Die bank het daarop die teruggeneemde eiendom op 'n veiling probeer verkoop, maar dit het nie die vereiste reserweprys behaal nie. Die bank het daarna die eiendom self vir 'n klein bedrag gekoop en dit later teen 'n wins verkoop. Die bank het daarop die leningsrekening met die aanvanklike koopbedrag gedebiteer en nie met die bedrag waarvoor dit uiteindelik verkoop is nie. Melville het beklemtoon dat die bank wel daarop geregtig is om die aanvanklike skuld terug te wen sowel as agterstallige rente en die houkoste. Maar die wins moet na die voormalige eienaar gaan. Hy meen dat die nuwe beslissing van sy kantoor nie veel verskil sal maak aan huiseienaars in die hoë-inkomstegroepe nie. "Hoewel rentekoerse aan die daal is, sukkel die meeste huiseienaars nog om die wolf van die deur af weg to hou. Ons betrokkenheid by die saak kan help om huiseienaars meer bedag op hul regte te maak en voortslepende regskonflik uit die weg te ruim." Huiseienaars wat probleme ondervind met hul lenings, moet eerder probeer om die eiendom self te verkoop voordat die bank die huisverband opsê. "Om net te wag op beter dae kan sake vererger deurdat regs-en rente-koste intussen toeneem,:" het hy gesê.
|